Dalk in die aand, of teen middernag of hanekraai, of miskien in die oggend vroeg. . .

Waak, want die huiseienaar kom dalk in die aand, of teen middernag of hanekraai, of miskien in die oggend vroeg. . .  Voorspel dit ʼn rustige nag?  Die ideale jaar?

Die jaar strek voor ons uit.  Ons gedagtes is by beginne, nie by eindes nie.  Ons het voornemens en vooruitsigte, idees en ideale, werk en plig.

In die kerk is dit epifanie: Dis die tyd van die kerklike jaar waarin ons nadink oor hoe Jesus al hoe duideliker aan ons verskyn.  Of anders gesê, hoedat ons ʼn dowwe foto van God al hoe duideliker sien word, soos destyds se Polaroids wat voor jou oë ontwikkel het, tot God in lewende lywe en lewensgroot hier vlak voor ons staan.  Fokus!, sê epifanie.

As jy nóú vir God sien, hier in die begin van die jaar al, en nie net in terugskouing nie, gaan 2018 vir jou anders lyk.  Ek weet ek het ʼn jaar nodig wat anders lyk.

Markus 13 verse 24 tot 35

7 Januarie 2018, NHKA Kampersrus

Epifanie

Vooraf Predikant

Die jaar strek voor ons uit.  Ons gedagtes is by beginne, nie by eindes nie.  Ons het voornemens en vooruitsigte, idees en ideale, werk en plig.

Skyfie: Dalk in die aand. . .  

In die kerk is dit epifanie: Dis die tyd van die kerklike jaar waarin ons nadink oor hoe Jesus al hoe duideliker aan ons verskyn.  Of anders gesê, hoedat ons ʼn dowwe foto van God al hoe duideliker sien word, soos destyds se Polaroids wat voor jou oë ontwikkel het, tot God in lewende lywe en lewensgroot hier vlak voor ons staan.  Fokus!, sê epifanie.

As jy nóú vir God sien, hier in die begin van die jaar al, en nie net in terugskouing nie, gaan 2018 vir jou anders lyk.  Ek weet ek het ʼn jaar nodig wat anders lyk.

Skyfie: Sing (Sit) Gesang 376 : 1 en 2   

Kom ons sing dat Jesus ons ster is, die lig waarin ons nou na die lewe en die wereld kyk.

Sang (Sit)

Gesang 376 strofes 1 en 2

Toetrede:

Skyfie: Sing (Staan) Gesang 372 : 1

Kom ons tree tot die erediens toe met die lied oor Christus Jesus, die Môrester.

Toetredelied (Staan)

Gesang 372 strofe 1

Toetrede Predikant Votum / Oproep (Bly staan)

Skyfie: Toetrede. Oproep (Staan) Hier kom die Môreson!

Lukas 1

78      

Soos die môreson sal Hy opgaan en uit die hoogte op ons afstraal,

79      

om lig te bring aan dié wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe, om ons voetstappe te rig op die pad van vrede.”

Amen

Aanbidding en lof Ouderling

Skyfie: Aanbidding en lof. Sing (Staan) Gesang 370 : 1, 4 en 5

Kom ons sing ter ere van die Kind  wat Koning word.  Kom ons sing staande saam ons loflied,

Sang (Staan)

Gesang 370 strofes 1, 4 en 5

Die wil van God: Riglyne vir die geloofslewe (Sit)

Skyfie: Aanbidding en lof. Die wil van God. (Sit.) Liefde!

Sit, dan luister ons na wat God se wil is, uit Markus 12:

28      

Een van die skrifgeleerdes het hulle hoor redeneer en het nader gestaan. Toe hy sien dat Jesus hulle ‘n goeie antwoord gegee het, vra hy vir Hom: “Wat is die heel grootste gebod?”

29      

Jesus antwoord hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here.

30      

Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’

31      

Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.”

Skuldbelydenis (Sit)

Skyfie: Aanbidding en lof. Skuldbelydenis. Sing (Sit) Psalm 31 : 9

Liefde is die een ding wat God vra wat ons nie gee nie.  Bly sit en sing saam ʼn belydenis van ons liefdeloosheid, uit

Sang (Sit)

Psalm 31 strofe 9

Genadeverkondiging (Sit)

Skyfie: Aanbidding en lof. Genadeverkondiging (Sit.) Kom na My toe!. 

God gee genade aan mense wat na liefde smag en daarvoor pleit. Jesus sê so in Markus 13

26      

“Dan sal die mense die Seun van die mens in die wolke sien kom met groot krag en majesteit.

27      

En dan sal Hy die engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te bring uit die vier windstreke, van die een kant van die aarde af tot by die ander kant.”

Geloofsbelydenis

Skyfie: Aanbidding en lof. Geloofsbelydenis. (Staan) Apostolicum

Kom ons staan op en bely ons geloof in God.   Bly daarna staan vir ʼn loflied aan die God in wie ons ons vertroue stel.

Apostolicum

Kom ons bely ons geloof saam met en soos die Kerk:

  • Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  • en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  • wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  • wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  • wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  • wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,
  • dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
  • Ek glo in die Heilige Gees.
  • Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  • die vergewing van sondes;
  • die opstanding van die vlees en
  • ʼn ewige lewe.

AMEN

Kom ons eer die Here met ʼn lofsang.

Skyfie: Aanbidding en lof. Sing (Sit) Gesang 472 : 1, 2  en 3

Sang (Staan)

Gesang 472 strofes 1, 2 en 3 

Aanbidding en lof Predikant

Skyfie: Aanbidding en lof. Kom ons bid saam.

Gebed Epiklese

Liefdevolle God,

As niemand anders na ons luister nie, hoor U ons as ons ons hart voor U uitstort.

As niemand anders ons raaksien nie, sien U ons nood en vul U ons met vreugde.

As almal anders van ons vergeet, onthou U ons en roep U ons by die naam.

U is die Here, ons God.

U is hier by ons om deur u Woord met ons te praat.

Maak dit vir ons moontlik om u stem te hoor, en om u boodskap ter harte te neem.

Amen.

Skyfie: Aanbidding en lof. Sing (Sit) Gesang 571 : 1 en 3

Kom ons sing oor hoe God ons jaar in en jaar uit aanhou seën.

Sang (Sit)

Gesang 571 strofes 1 en 3

Skriflesing (Sit.) Markus 13 : 3 tot 8 en 24 tot 27 en 32 tot 37

LW: Die Skriflesing verskyn nie vers vir vers op die bord nie!

Verkondiging Predikant Skriflesing (Sit)

Ons lees uit die Bybel Markus se evangelie van Jesus Christus, hoofstuk 13.  Markus 13 : 3 tot 8, Markus 13 : 24 tot 27 en Markus 13 : 32 tot 37.

Dit begin op bladsy 71 van die Afrikaanse Nuwe Testament, die 1983-vertaling.

Markus 13 : 3 tot 8

3        

Jesus het op die Olyfberg gaan sit, regoor die tempel. Toe hulle alleen was, vra Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas vir Hom:

4        

“Sê vir ons, wanneer sal dit gebeur en wat sal die teken wees van wanneer dit alles voleindig gaan word?”

5        

Jesus sê toe vir hulle: “Pas op dat niemand julle mislei nie.

6        

Daar sal baie onder my Naam kom en sê: ‘Dit is ek!’ en hulle sal baie mense mislei.

7        

“En wanneer julle die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor, moet julle nie verskrik wees nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie.

8        

Want die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander. Daar sal aardbewings op baie plekke voorkom. Daar sal hongersnode wees. Hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd.

Markus 13 : 24 tot 27

24      

“Maar in daardie tyd, ná daardie verdrukking, sal die son verduister word en die maan sal nie skyn nie;

25      

die sterre sal uit die ruimte val en die kragte van die hemelruim sal ontwrig word.

26      

“Dan sal die mense die Seun van die mens in die wolke sien kom met groot krag en majesteit.

27      

En dan sal Hy die engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te bring uit die vier windstreke, van die een kant van die aarde af tot by die ander kant.”

Markus 13 : 32 tot 37

32      

“Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, selfs nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.

33      

Wees op julle hoede; wees waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie.

34      

Dit is soos ‘n man wat ver weggegaan en sy huis onder beheer van sy slawe gelaat het. Hy het vir elkeen sy werk gegee en die deurwagter beveel om waaksaam te bly.

35      

Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die huiseienaar kom nie, in die aand of middernag of met hanekraai of die môre vroeg nie,

36      

sodat wanneer hy onverwags kom, hy julle nie aan die slaap kry nie.

37      

En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Bly waaksaam!”

Jesus sê van sy gesag om oor hierdie dinge met ons te praat, in Markus 13

31      

“. . .Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.”

Skyfie: Verkondiging. Sing (Sit) Gesang 339 : 1 en 2

Die Woord het mens geword.  Kom ons sing dit uit

Sang (Sit)

Gesang 339 strofes 1 en 2.

Preek

Skyfie: Verkondiging.  Waak. Slaap. Droom.

Craig Davison is ʼn skilder.  Of ʼn illustreerder, afhangende van hoe puntenerig jy oor kuns is.

Davison teken kinders, nie prentjiemooi of fotopresies nie.

Skyfie: Foto 1.

Hy teken karakters, amper karikature.  Sy kinders speel in hulle verbeelding.  Hulle skaduwees ets af hoe hulle vir hulleself lyk:  helde.

Skyfie: Foto 2.

Superman, Spock en Stormtroopers, Batman, Cowboys en Indians, Ninja Turtles, Blondie en Princess Leia met R2D2.

Skyfie: Foto 3.

Sy prentjies wys hoe kinders speel en wat kinders droom.  Dis presies wat kinders móét doen: speel en droom.

Om te speel en jou te verbeel, is heerlik, maar ook net as jy ʼn kind is, nè?

Skyfie: Foto 4.

Grootmense moet die harde realiteit vierkantig in die oë kan kyk, en daarvan kan werk maak.  As jy groot is, is om te wil gaan speel in jou eie droomwêreld, papbroekig.

Skyfie: Foto 5.

Daarom kan jy Davison se prentjies maklik afskryf as kinderlik.  Maar daar is iets gevaarlik verleidend aan Davison se kinders.   Daar is ʼn verbetenheid op hulle gesiggies.  Hulle leef vir hulle ín.  Hulle ís wat hulle glo.  En die hele speelgroep droom saam.  Hulle kán, want hulle ken almal hierdie helde van hulle uit flieks en reekse.  Die situasies wat in hulle spel opduik, skrik hulle nie af nie.  Hulle het selfvertroue.  Hulle hanteer enigiets, want dis wat legendes doen.

Hierdie kinders speel nie net nie, hulle lééf.  Speel leer leef.  Spel is hoe jy vir lewe oefen.

Skyfie: Mespunt. Waak. Wedywer. Wen. 

Davison se kinders nooi jou uit om speels te leef.

Maar die harde werklikheid is nie jou speelmaat nie.

Dis ʼn mespunt.

Die naaste wat ons dit nog aan spel waag, is sport.  Sport is wel spel, maar sport is ernstiger as wat spel behoort te wees.  Sport is wedywering.  Kragmeting.

Jy kan ʼn speletjie verloor, onthou dit.

Jy kan jou speel-speel met die lewe vasloop.

Skyfie: Mespunt. Waak. Veg. Oorwin. 

Jy kan jou droom so liefkry, dat jy wat werklik is, begin haat of minderwaardig ag, en vir die seën van wat jy klaar het, blind word.   Dan is niks wat is, meer goed genoeg soos dit is nie.  Dan vat jou droom en die werklikheid mekaar aan totdat een oorwin en die ander sneuwel.

Skyfie: Chad Bird. 

Dis presies wat Chad Bird van Nuwejaar sê:

Nuwejaar is die jaarlikse feesviering van  

  • Ons is nie goed genoeg nie
  • Ons is nie maer genoeg nie
  • Ons is nie aangenaam genoeg nie.
  • Ons is nie slim genoeg nie.

Dis die bose dag van die Wet van Minderwaardigheid wat ons aanmekaar aankla.

Neem vandag, en elke dag, kennis: Christus is ons Goed Genoeg.

In Hom is ons vir God 100% Goed Genoeg. 

Davison se kinders spring die gedroom oor ʼn ideale wêreld vry:  Hulle verbeel hulle nie ʼn eindproduk nie.  Hulle droom nie oor karre en klere, kastele of skeepsvakansies met kunstefeeste nie.  Davison se kinders droom nie oor ideale nie, maar oor hulle eie vermoë om aan drome te kan gestalte gee.  Hulle nooi jou uit om oor jouself anders te dink.

Skyfie: Die ideaal. Die perfekte lewe.  

Maar ons, grootmense, doen dit nie so nie.  O, ons droom oor nuwe lewens.  Maar ons speel nie as ons nie kan kompeteer nie.  Wat ons droom en wat werklik is, maak oorlog; en oorlog is net ʼn stappie verder as sport.

Ons gaan na ideale op soek.  Die ideale maat.  Ideale kinders.  Die ideale werk, huis en vakansie.  Ideale toerusting en besitting.  Die ideale vriende, familie, kerk en gemeenskap. Die ideale lewe, die perfekte jaar.

Hieragter sit die eerbare wete dat alles kan beter.

Die reklamebedryf teer hierop.  Advertensies wil jou met wat jy is en het, onvergenoegd laat voel, sodat hulle aan jou die kuur kan verkoop.

Soms verbeel jy jou dit sommer self: Dat jy ontoereikend is, minderwaardig en onbelangrik.  Jy vergeet van die werklikheid waarmee jy reeds geseën is. Drome wat jou met die werklikheid ontevrede laat voel, is net so gevaarlik as om droomloos aan die werklikheid verknog te wees, vas oortuig dit kan nie anders nie.  Ideale kan tred verloor met die werklikheid, en die werklikheid kan jou laat opgee met droom.

Jy begin glo harde werklikheid verg hardhandige hantering.

Maar as jy droom, kan jy wat hard en swaar is, lig en sag laat word, iets waaraan jy kan plooi en skaaf en skoei tot dit beter pas. Speels.

Skyfie: Die tempel werk nie. God gaan weg.

Wat op aarde, vra jy nou al seker, het dit met Jesus se profetiese rede uit te waai?

Jesus draai sy rug op die tempel.  Hy gaan weg.  Die afgelope weke het al wat leef Hom daar aangevat.  Daar soek hulle net sy dood.  Nou is Hy klaar met die plek.  God het genoeg gehad.  Die tempel was die plek waar God en mense kontak maak.  Dis iets van die verlede.  As jy voortaan vir God gaan soek, kry jy Hom by Jesus.

So in die wegloop, doen die dissipels ʼn Lotsvrou:  Sjoe, dis darem maar ʼn indrukwekkende plek dié: Kyk net daai klippe!

Die tempel is nog in aanbou, 50 jaar al, en sou oor nóg 40 jaar eers klaarkom.  Die plek beslaan nou al 12 rugbyvelde. Die suidoostelike muur, Kedronvallei se kant toe, staan 15 verdiepings hoog!

“Jy sien hierdie groot geboue?” sê Jesus, “van hulle sal nie eers een klip op die ander oorbly nie.” Die tempel sou ook net drie jaar na voltooiing bly staan, voor Rome dit met die grond gelyk sou maak, want die Jode het met hulle skoorgesoek.

Dís nog veertig jaar in die toekoms.  Nou gaan Jesus op die Olyfberg sit, en kyk oor die Kedronvallei terug tempel toe, en spreek vandaar die laaste oordeel oor die tempel uit.  Sagaria 14 het dit voorspel:

1        

Die dag van die Here kom.

2        

Ek sal al die nasies bymekaarmaak vir ‘n oorlog teen Jerusalem.

4        

Daardie dag sal sy [God se] voete op die Olyfberg staan, oos van Jerusalem.  

Skyfie: Wanneer?

“Wanneer?”  wil die dissipels weet.  “Vir watter teken moet ons op die uitkyk wees?”

Wel, oor die wanneer, bid maar, sê Jesus in ʼn sydelingse verwysing na Sagaria, dit gebeur nie in die winter nie. Sagaria sê mos

6        

Daardie dag sal daar nie lig wees of koue of ryp nie.

En pasop tog maar vir sogenaamde tekens.  Tekens is misleidend.  Mense maak van enigiets tekens. Mense maak self die rumoer van oorlog, en verbeel hulle dan hulle hoor vir God kom.  Mense dreig mekaar alewig met hoe groot die knoppies is wat hulle kernarsenale afvuur.  Net so maak mense van aardbewings en hongersnood ook “tekens van God af”.  Hulle gee almal voor “Dit is ek, die Christus van God!”  Hulle lieg almal ewe hard.  Al hierdie goed, is mense se toedoen, nie God s’n nie.  Mensewerk is nie eindtydgebeure nie.

8

 . . . Hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd.

Hier begin mense se opstand teen God.

Skyfie: Wat doen God?

Bly liewer vir God op die uitkyk, en vir die goed wat God doen.  Hier’s wat God doen, sê Jesus toe, in Markus 13:

20

“As dit nie was dat die Here daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie;  maar ter wille van die uitverkorenes wat Hy uitverkies het, het Hy daardie tyd ingekort.”

Hoe kort God hierdie tyd vir ons in?

Baie dominees sê Jesus voorspel die eindtyd, en dis naby. Ek dink hulle kyk iets mis.  Die dissipels dop dieselfde toets: die huiseienaar het klaar opgedaag en die slaaf wat moes wagstaan, onverhoeds betrap.

Jesus is die Christus.  Hy is klaar hier.  Toe Jesus sy rug op die tempel draai, en nes Lot uit Gomorra, God uit Jerusalem padgee, het die eindtyd gekom.  God gaan binne enkele dae ingryp.   Hou nou jou oog op God, en op sy Christus.

Skyfie: Wat doen God? Jesus Christus.

Twee keer nou al in “die profetiese rede” waarsku Jesus teen skynchristusse,

6

. . .mense wat onder my Naam kom en sê: ‘Dit is ek!’

21

“As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of: ‘Kyk, daar is Hy!’ moet julle dit nie glo nie.     

Daai Christus is Ek.

En dan, dink ek, praat Jesus, uit Sagaria 14, oor wat nou, op hierdie oomblik in Jerusalem aan’t kook is.

6        

Daardie dag sal daar nie lig wees . . . nie.

7        

Daar sal nie dag of nag wees nie: as dit aand word, sal daar steeds lig wees.

En, by implikasie, dit sal dag word, maar donker bly.

Dit sê Jesus nou, hier in Markus 13, in soveel woorde:

24      

“Maar in daardie tyd, ná daardie verdrukking, sal die son verduister word en die maan sal nie skyn nie;

25      

die sterre sal uit die ruimte val en die kragte van die hemelruim sal ontwrig word.

Dit alles gebeur volgende Vrydag.  Dis wat Jesus bedoel.

Sagaria sê:

9        

Die Here sal koning wees oor die hele land.

Dit sal julle Vrydag met julle eie oë sien: die doringkroon en die kruistroon.  En drie dae later, op Sondag, wel,

9

Daardie dag sal die Here die enigste God wees, en sy Naam die enigste Naam.

Sien julle hierdie monumentale gebou?  Hierdie tempel gaan soos ʼn kaartehuis intuimel, en Israel gaan hulle kontak met God kwyt wees.  Maar drie dae later gaan God en God alleen God wees, en geen groot stapels klippe gaan jou meer beïndruk as ʼn moontlike plaasvervanger vir die ware Jakob – die ware Jesus Christus – nie.

26      

“Dan sal die mense die Seun van die mens in die wolke sien kom met groot krag en majesteit.

Dis geskeduleer vir kort daarna.  Behalwe dat julle My eers op die wolke sal sien weggaan voor Ek terugkom.

27      

En dan sal Hy die engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te bring uit die vier windstreke, van die een kant van die aarde af tot by die ander kant.”

Jesus lees iets daarvan ook al in Sagaria 14.

5        

Dan sal die Here my God kom, en al die hemelwesens sal by jou wees.

Dis mos maar dieselfde as om te sê: Die hemel het oopgeskeur by Jesus se geboorte toe engele op ʼn oop veld naby Bethlehem, met herders kom tiekiedraai het.  En toe weer by ʼn doop in die Jordaanrivier toe God self kom sê het hoe bly is Hy.  En weer toe die voorhangsel in die tempel wat God van die gemeente moes skei, middeldeur skeur. Die hoëpriester dans ʼn riel voor die altaar want die swaar las van die volk se sonde wat hy daar moes indra, is van sy skouers af. Die Here my God het klaar gekom.  En die Here my God kom sit en sing op my tong.

Sagaria mos

8        

Daardie dag sal daar ‘n vars stroom water uit Jerusalem vloei, een helfte na die see in die ooste toe en een helfte na die see in die weste toe, somer en winter.

11      

Daar sal mense woon, en die stad sal nie weer verwoes word nie. Jerusalem sal ‘n veilige woonplek wees.

Ek dink dis van nou en van ons dat Jesus daar van die Olyfberg af praat.

Weer praat Hy Sagaria agterna:

7        

Dit sal ‘n besondere dag wees. Wanneer dit sal wees, weet net die Here.

Dis wat Jesus in Markus ook sê:

32      

“Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, selfs nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.

33      

Wees op julle hoede; wees waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie.

35      

Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die huiseienaar kom nie, in die aand of middernag of met hanekraai of die môre vroeg nie,

Aand, middernag, hanekraai en vroegoggend is duidelike leidrade.  Nog net die naam van die dag en die nommer van die jaar ontbreek. Hulle weet nog nie dis oormôre nie. . .

Skyfie: Waak.

Wees waaksaam, want die tye waarop die huiseienaar terugkom, is presies die tye waarop elkeen van die groot oomblikke van die kruisiging plaasvind, die oomblikke wanneer God die naaste aan ons kom:

  • Die aand met die paasmaaltyd
  • Die middernag se gebid en geslaap en verraad in Getsemané
  • Die hanekraai se verloëning
  • Die oggend vroeg se kruisiging.

35      

Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die huiseienaar kom nie, in die aand of middernag of met hanekraai of die môre vroeg nie,

36      

sodat wanneer hy onverwags kom, hy julle nie aan die slaap kry nie.  

Ons is klaar uitgevang, vas aan die slaap.

Maar weet jy wat?  Dit maak nie meer saak nie.  God gee aan mense wat Hy liefhet, alles in ons slaap.

Nee, ek dink nie Jesus voorspel hier die einde nie.  Dit gebeur alles sommer nou. Nóú, in die dissipels se geval, is sy dood voor die deur.  En nou, in ons geval, hier na sy opstanding, is ons sonde weggevat en die Gees uitgestort.

Waak, sê God.  Maar wees rustig.  Gaan slaap.   Droom bietjie oor hoe die lewe saam met God kan lyk.

Glo nes ʼn kind dis al klaar waar.  Wees ʼn kind van God.  Wees speels.  Speel meer.  Speel saam.  Jou Vader heers.  Voel veilig genoeg om weer te waag speel en weer te wil droom oor wie jy is, en wat jy van die jaar kan maak.  Droom groot.  Jou skaduwee, as Craig Davison jou sou teken, kan nes Christus lyk.  Nie dat jy Christus is nie.  Nie een van die Davison kinders is Superman self nie. Maar in hulle verbeelding kan hulle wees soos hy, en regkry wat hy doen.  Selfs meer as hy, want hulle is regtig hier.  Jy ook.  En, anders as Superman, God ook.

Amen.

Skyfie: Dankgebed.

Dankgebed Wegsending:

Skyfie: Wegsending. Slotsang (Staan.) Gesang 368 : 2, 3 en 4

Wees bly, wees altyd bly.  Jesus die Redder maak ons vry.

Slotsang (Staan)

Gesang 368 : 2, 3 en 4

Skyfie: Wegsending. Seën. (Staan.) In die aand, middernag, met hanekraai of vroegoggend. . .

Seën (Staan)

Ontvang die seën van die Here uit Markus 13

35      

Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die huiseienaar kom nie, in die aand of middernag of met hanekraai of die môre vroeg nie,

36      

sodat wanneer hy onverwags kom, hy julle nie aan die slaap kry nie.

37      

En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Bly waaksaam!”

Amen.   

Skyfie: Wegsending. Respons (Staan.) Gesang 517 : 1, 2 en 3

Respons (Staan)

Gesang 517 strofes 1, 2 en 3

Skyfie: https://hennielagrange.wordpress.com/

Afkondigings Insameling van die dankoffers/orrelspel Liedere in hierdie erediens

 

Gesang 376 strofes 1 en 2

Gesang 372 strofe 1

Gesang 370 strofes 1, 4 en 5

Psalm 31 strofe 9

Gesang 472 strofes 1, 2 en 3

Gesang 571 strofes 1 en 3

Gesang 339 strofes 1 en 2.

Gesang 368 : 2, 3 en 4

Gesang 517 strofes 1, 2 en 3

Chad Bird‏ @birdchadlouis

Following @birdchadlouis

New Year’s is the annual festival of we’re

-Not Good Enough

-Not Skinny Enough

-Not Nice Enough

-Not Smart Enough

It is the unholy day of the Little Law that always accuses us. Today, and every day, hear this: Christ is our Enough.

In him we are 100% pleasing to God.

3:39 PM – 31 Dec 2017

  • 119Retweets
  • 309Likes

 

 

Advertisements Deel dit met iemand:
  • More
Like this:Like Loading...