Dors.

Suur asyn, bitter barmhartigheid en soet nagmaalwyn.

Ek kan nie dink aan n beter uitnoding om die nagmaal te kom gebruik, as Jesaja 55 nie.    

Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk.

Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie, waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is en versadig kan word met die beste wat daar is.

Gee aandag en kom na My toe, luister, en julle sal lewe. Ek wil met julle ‘n ewige verbond sluit, Ek wil my troue liefde aan julle betoon soos aan Dawid.

 

Psalm 69 verse 17 tot 22 Johannes 19 verse 23 tot 30

 

27 Augustus 2017, NHKA Kampersrus

Nagmaal

Skyfie: Dors. Suur asyn. . .

Vooraf Predikant

Vakansie is lekker.

Dankie dat julle dit vir ons moontlik gemaak het om weer by ons kinders en geliefdes te gaan kuier.

Die een ding wat n mens met vakansie die meeste doen, is eet; saam eet.  Om ʼn tafel, is waar jy kuier.  Om ʼn tafel groei gemeenskap, kom ons nader aan mekaar.  Dis die naaste wat ons seker aan mekaar kán kom.  Selfs aan vreemdes wat opgedaag en aangesit het.  Ons het om tafels vriendskap, familiebande, mylpale en prestasies, verjaarsdae en sommer net die lewe gevier.  Ons het geëet in Pretoria, Roodepoort, Kaapstad, Kleinmond en Hermanus.

En vandag eet ons weer saam met familie, geloofsfamilie, hier in Kamperus.  Dis ’n voorreg.

Skyfie: Dors. Toetredelied

Toetrede Predikant

Kom ons berei ons voor vir vandag se ontmoeting met die Here hier in die erediens.  God kom nader.  Ons kom nader aan mekaar.  Ons smee bande.

Kom ons sing ons toetredelied

Toetredelied (Staan)

Gesang 301 strofes 1,2,3 en 4

Skyfie: Dors. Votum en Seën

Votum en Seëngroet (Bly staan)

1        

Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk.

2        

Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie, waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is en versadig kan word met die beste wat daar is.

3        

Gee aandag en kom na My toe, luister, en julle sal lewe. Ek wil met julle ‘n ewige verbond sluit, Ek wil my troue liefde aan julle betoon soos aan Dawid.

(Jesaja 55)

Aanbidding en lof Ouderling

Skyfie: Dors. Loflied. . .

Die Here is Koning oor die hele aarde en van alle mense.  Ons is van die eerstes wat juig dat God regeer.  Kom ons sing dat die Here sy koninkryk moet laat kom, en deur ons moet laat kom, en orals moet laat kom. Kom ons sing

Sang (Staan)

Gesang 488 strofes 1,2,3,4 en 5

Die wil van God Riglyne vir die geloofslewe (Sit)

Skyfie: Dors. Die wil van God

Jesus Christus, Hy wat die Nagmaal vir ons ingestel het, sê aan ʼn wetgeleerde wat nodig is om vir die nagmaaltafel te kwalifiseer.  Die wetgeleerde het Jesus met dié vraag probeer vastrek:

36      

“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

37      

Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand.

38      

Dit is die grootste en die eerste gebod.

39      

En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’

40      

In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Skuldbelydenis

Skyfie: Dors. Skuldbelydenis Gesang 230 : 1,2,3

Al klink dit so eenvoudig, ons kry dit nie reg nie.   Dalk met nagmaal meer as te ander tye, word ons van ons sonde bewus.  Kom ons bely ons skuld aan God en aan die mense wat ons met ons sonde seergemaak het.  Kom ons sit en sing

Sang (Sit)

Gesang 230 strofes 1, 2 en 3

Genadeverkondiging (Sit)

Skyfie: Dors. Genade. Matteus 8:11

Hoor wat sê Jesus in Matteus 8 aan mense wat, nes ons, van ver af kom genade soek.

11      

Ek sê vir julle: Baie sal van die ooste en die weste af kom en saam met Abraham, Isak en Jakob aan tafel gaan in die koninkryk van die hemel.

Geloofsbelydenis (Sit)

Skyfies: Apostolicum

Kom ons bely ons geloof in die God wat ons na sy tafel toe nooi.

  • Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  • en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  • wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  • wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  • wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  • wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,
  • dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
  • Ek glo in die Heilige Gees.
  • Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  • die vergewing van sondes;
  • die opstanding van die vlees en
  • ʼn ewige lewe.

AMEN

Skyfie: Dors. Bely geloof in genade. Gesang 510 : 1,2,3,4

Kom ons bely ons geloof in genade.  Kom ons staan op en sing saam, en bly sommer almal daarna staan vir die gebed.

Sang (Staan)

Gesang 510 strofes 1,2,3 en 4  

Aanbidding en lof Predikant Sang as gebed (Staan)

Skyfie: Dors. Gebed. (Staan) Psalm 42. . .

Ons bid vandag met ʼn lied.  Kom ons bid almal staande saam

Psalm 42 strofe 1 (TT Cloete-teks)

Psalm 42 strofe 1 (Lina Spies-teks)

Verkondiging Predikant Skriflesing (Sit)

Skyfie: Skriflesing. Psalm 69 : 17 – 22 en Johannes 19 : 25 – 30

Ons lees uit die Ou- en die Nuwe Testamente.  Ons lees eerste uit Psalm 69.  Die Psalm begin op bladsy 633, maar ons lees net van vers 17 af en dis op bladsy 634 van die NAV 1983.

Skyfies: Psalm 69 : 17 – 22

Psalm 69 verse 17 tot 22

17      

Antwoord my, Here, in u wonderlike liefde, verhoor my in u groot barmhartigheid!

18      

Moet tog nie u dienaar alleen laat nie! Ek is in groot gevaar, antwoord my tog gou!

19      

Kom red my lewe, bevry my van my vyande.

20      

U weet hoe ek beledig en verkleineer is, hoe sleg ek daarvan afgekom het voor al my vyande.

21      

Beledigings het my gebreek, ek is gedaan. Ek het gehoop op meegevoel, maar tevergeefs, op mense om my te troos, maar daar was nie een nie.

22      

Toe ek honger was, het hulle my gif aangebied, toe ek dors was, wou hulle my asyn laat drink.

Ons lees tot so ver uit Psalm 69.

Skyfie: Dors. Sing. (Sit) Psalm 69:6

Maar voor ons aangaan, kom ons sit en sing die stukkie van Psalm 69 wat ons so pas gelees het.

Sang (Sit)

Psalm 69 strofe 6

Skriflesing (Sit)

Skyfie: Skriflesing. Johannes 19 : 25 – 30

Ons blaai Nuwe Testament toe.  Daar lees ons Johannes 19 van vers 25 af.  Dis op bladsy 156.

Johannes 19 verse 25 tot 30

Skyfies: Johannes 19 : 25 – 30

25      

By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan.

26      

Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.”

27      

Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.” Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.

28      

Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”

29      

Daar het ‘n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe ‘n spons vol suur wyn op ‘n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou.

30      

Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!” Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas.

Die Woord van God vertel van Jesus se bitter lyding.  Vir ons is die boodskap van sy genade soet en gevul met wysheid. Kom ons sing dit uit

Sang (Sit)

Psalm 119 strofe 18.

Preek (Sit)

Skyfie: Dors. Suur asyn, bitter barmhartigheid en soet nagmaalwyn

O, dis bitter dat ʼn mens swak is; dat jy nie regkry om te doen wat van jou verwag word nie.  En dis bitter dat mense sit en wag dat jy faal, want hulle is gretig dat jy val, oor hulle glo jy’s vals.    Mense verlekker hulle nie net as ons misluk nie, hulle wil ons uitvang:  Hulle soek bewyse dat ons nie is wie ons voorgee om te wees nie.

Net as jy baie gelukkig is, het jy nie sulke vyande nie. Die wêreld en die werklikheid het ʼn kompetisie geword; net die fiksste verdien om te oorleef.

Maak jy net een fout in ʼn toets, kry die kind in die voorste ry ʼn punt meer as jy, en kom vryf dit in hy is beter as jy!  Loop net een kontrak skeef, verloor jy net die een kliënt, misluk juis hierdie tender,  net die een ou glipsie kom jou duur te staan.  Sê net in ʼn onbewaakte oomblik die verkeerde ding, of skryf jy dit op facebook, of doen net een onbesonne daad en die gevolge vervolg jou, laat vaar net een mens jou, los jou, verwerp jou, jou lewe stort skouspelagtig in duie.  En op die kantlyn gee ʼn paar ouens luide applous.  Ander sal staan en somme maak oor hulle wins uit jou verlies.

Skyfie: Dors. Is jy jou eie grootste vyand?

As jy voel jy bly op heeltemal ʼn ander planeet, en jy kan in ander mense geen gevaar sien nie, wel, dan doen jy sommer al hierdie goed aan jouself.  Jy is jou eie grootste vyand.  Want jy het standaarde en waardes en norme waarby jy hou, en afwyking daarvan, maak jou kwaad. Vir wie word jy kwaad?  Jy raak kwaad vir die een en enigste mens wat jy genadeloos kan straf sonder om vir ʼn enkele oomblik oor die straf wat jy uitdeel, skuldig te voel of jammer te kry.  Dis die een mens wat jy kan seermaak tot hy brul van die pyn, tot hy snak na asem, wat hom sal oorgee aan die dood van jou oordeel sonder ʼn woord van verwyt of ʼn sweempie weerstand.  Hy weet mos hy verdien dit. Daar is net die een ou wat dit van jou gaan vat: jy self.

Snaaks dat ons dit doen.  Het jy pyn, vat jy ʼn pil. Maar begin jy twyfel in jouself, raak jy teleurgesteld in wat jy kan regkry en vies vir hoe jy droogmaak, raak jy so ontnugter met wie jy is, dat jy ophou om van jouself te hou en begin jy jouself verniel.  Die skade wat jy jouself kan aandoen, kan niemand jou nadoen nie.  Niemand anders weet so goed as jy waar dit die seerste maak nie.  Niemand weet so sekuur waar om te mik om die gouste die grootste skade aan te rig nie. Niemand anders ken jou gewete se geheime so goed soos jy nie. Niemand gaan vir jou ʼn beter straf kan vind as jy nie.

Skyfie: Jy doen dit self!

Dis nie iemand anders wat eis dat jy jouself begin sny nie.

Niemand anders laat jou ophou eet nie.

Niemand dwing jou om te begin drink nie.

Daar is niemand wat keer dat jy uit die bed uit klim nie.

Geen vyand sluit jou toe en jaag besoekers weg met ʼn gevloek nie.

Niemand anders soek jou dood nie.

Net jy.  Jy doen dit.  Jy doen dit beter as enigeen. Want jou woede bring ʼn heilige roede. Jy vat dit soos ʼn man, want jy weet jou straf is geregverdigd. Jy het daarvoor gesoek.  Jy kry net wat jou toekom. Daar is selfs ʼn goeie naam daarvoor wat jou laat glo God stem saam met hierdie straf: sonde!

Nou ja, bring die martelbank.  ʼn Kruis sal werk. Swepe ook. ʼn Mes, ʼn lemmetjie. Dalk ʼn galg. Of iets makker soos ʼn offer wat ek kan sien bloei en met verwilderde oë en stuiptrekkings kan sien doodgaan – dis tog wat ék verdien!    Waar is God se vloek en die hel-en-verdoemenis-preke? Waar die God-is-kwaad-pasop-as-pa-by-die-huis-kom-dreigemente? Hulle werk vir my.

Skyfie: Dors. ʼn Tafel vol seën

Wat hier voor my staan, is ʼn tafel vol seën.  Wit gedek, met vars brood en soet wyn. En God is hier.  En jy is in die geselskap van skynbaar die beste mense.  Nee, hier’s fout!  Ek hoort nie hier nie! Bring vir my ʼn beker gif, en ek’s tuis.  Laat my klippe kou en ek’s gelukkig.

O, dis bitter om te erken dat jy swak en sleg is. As jy niks goeds meer van jouself kan sê nie.  As almal om jou met jou saamstem.

Net as jy baie gelukkig is, het jy nie sulke vyande nie.  Jesus was nie so gelukkig nie.

Skyfie: Dors. Dood van die dors.

Vra maar die boer wat die droogte moes deur:  Ons gee-ʼn-dier-ʼn-drukkie-geslag is vir net sekondes se nuusdekking daaraan blootgestel, en ons kry die horriepiep; ons beauty-without-cruelty-tipes met ons pelslose modes; ons wat gal braak oor jagfoto’s op facebook; ons toemaargeslag, toemaar-geen-hoenders-honde-rotte-of-kokkerotte-is-in-hierdie-fliek-of-advertensie-seergemaak-nie-geslag; ons sluk swaar aan hoe diere van dors vergaan.  Maar Jesus vergaan sienderoë van die dors, en niemand gee ʼn flenter om nie.  Trouens dis van kruisiging die hele punt: Dat jy stadig doodgaan van ontbering, onder andere van ontwatering, van dors.

Die ander skrywers sê sy laksmanne het Hom wyn aangebied, suur wyn wat meer na ons asyn sou smaak.  Dit sou sy dors nie les nie, maar dit was ook nie die idee nie.  Dis bitter barmhartigheid die.

Skyfie: Dors. Dood van die dors. Maar Hy drink nie.

Jesus het die wyn geweier.  Dalk was Hy bang die wyn sou Hom bedwelm.  Dit sou ʼn pynstillende effek kon hê.  Maar Jesus sou moes inboet aan nugterheid.  Hy wou bewus bly. Jesus was daarop bedag dat wat Hy nou hier aan die kruis doen, is om sy lewe af te lê.  Sy doodgaan aan die kruis is nie ʼn genadiglik bewustelose verwisseling van die tydelike met die ewige nie.  Hy wou weet wat gebeur. Hy wou kon sê wat Hy wil en dit bedoel.  Hy dóén sy dood.

Vader vergewe hulle.

Ek het hulle lief.

Hy wou kon dink oor ons wat Hy liefhet, en oor watter troos Hy ons moet gee: sy ma, die ander vroue, sy vriend Johannes, sy ander dissipels, die hele wêreld wat op Golgota fokus, soos ons in Kampersrus. Hy moes sy bewussyn behou as Hy sy werk wou klaarmaak.

Hy drink nie.

Net Johannes onthou iets anders.

Jesus was op sy laaste.  Jesus het geweet dat alles nou kant en klaar afgehandel is, voltooi en volbring is.  Net nog een ding bly oor:  Dat almal wat Hom hoor, sal weet die Ou Testament is vervul. Dis nou die Ou Testament wat sê die Redder wat van God af kom, sal nie soos ʼn koning lyk nie, maar soos ʼn bediende wat aan sy lyding beswyk.  Van die kruis af, stuur Hy ons Bybel toe, nes die leidrade van ʼn blokraai ons woordeboek toe vat.  Psalm 69.

Skyfie: Dors. Toe ek honger was. . .

Toe ek honger was, het hulle my gif aangebied, toe ek dors was, wou hulle my asyn laat drink.

“Ek is dors!” sê Hy.

Hulle doop toe ʼn spons in suur asynwyn, steek dit aan ʼn stok en druk dit teen sy mond.  Hy sluk. Dis wrede barmhartigheid, want aan sy dors doen dit niks.  Maar Psalm 69 weergalm van Golgota af in die kortste preek ooit: die man aan die kruis is die een wat God sou stuur.

Psalm 69 sê so, sê dit nog altyd.

As daar iemand by die kruis was wat dit gesnap het en wou keer, was dit nou te laat.  Jesus sterf.

Maar vir die meeste ouens wat daar was, lui daar nog geen klokkie nie.  Hulle sien uiteindelik waarvoor hulle gewag het.  Hulle het gewag vir ʼn man wat voorgee dat Hy God is om te wys Hy kan nie doodgaan nie. Hulle wag vir God om te wys hulle kan Hom nie doodmaak nie, dat hulle Hom nie kan seermaak nie, dat Hy geen lyding voel nie, oor God mos by verre te groot is vir mense om Hom skade te berokken of vir Hom pyn te veroorsaak. Hulle sit en wag dat Hy wys Hy’s nie wie Hy sê dat Hy is nie.  Hy sal breek.  Dan sal almal weet Hy was ʼn vals profeet en Hy kan niks van die goed wat Hy belowe het doen nie.

Dis presies wat hulle wou hoor: “Ek is dors.”  Ons was toe al die tyd reg! Hy drink wyn teen pyn en uitputting: Sou God so iets doen?

Jesus drink wyn, en vervul Psalm 69.

Skyfie: Dors. Psalm 69

Hy verkondig Hy is die Christus, die lydende bediende van God.  Op sy skynbaar swakste oomblik, preek Hy sy magtigste preek, gee Hy die sleutel wat die hele Skrif oopsluit. Wat hulle dink is sy laakbare mislukking, is sy dawerende triomf.

In der waarheid sê Hy:  Dit staan al lankal in die Bybel.  En nou net het julle wat in die Bybel staan, hier gesien gebeur: aanskouingsmateriaal. Julle besef dit nog net nie. Maar julle sal.  Ek het pas, met julle wrange barmhartigheid, voor julle oë die hele Skrif in een oomblik laat gebeur.  Ek het julle suur asyn gedrink.

Dan sê Hy nog net: “Dit is volbring”, en Hy sterf.

Dis erg as mense staan en wag dat jy faal. Dit maak seer as hulle hulle verlekker in jou val. Maar dis erger as jy jou so vir jou eie sonde straf dat nie eers God se genadetafel jou meer kan oorreed om met jou selfkastyding te stop nie. As jy vandag daar uit jou stoel uit opstaan om hierheen te kom, gaan jy sê: “Ek is swak! Ek het die stryd teen my sonde verloor.”  Jy gaan vir ʼn oomblik oorweeg om te bly sit, of die hasepad te kies.  Eerder dit as om hier, voor almal te sê: “Ja, ek is toe die sondaar wat julle vermoed het ek wegsteek.”  En om eerlik te wees, daar mag dalk mense hier wees wat gaan dink: “Het jou! Ek het mos altyd gesê jy’s vol sonde!”  Natuurlik is hulle reg.

Jy gaan opstaan en sê: “Ek is dors.  Ek gaan dood van die dors.”

Skyfie: Dors? Kom, kom kry lewende water. . .

Hier is vir jou wyn om te drink, soet wyn.  God se barmhartigheid, nie van die asynsuur soort wat mense uitdeel nie.

Hier is vergifnis. Hier is vryspraak.  Hier is vrede. Alles waarvan die Bybel praat in ʼn slukkie wyn.

Jou swakste oomblik, jou skuldbelydenis, jou erkenning dat jy doodgaan van die dors vir genade, sal jou hiervandaan laat teruggaan tussen jou vyande in, ʼn wenner.  Jy sal kan teruggaan na jouself toe, met selfrespek en menswaardigheid.  ʼn Nuwe kans op lewe. En met die moed om te sê: Dis regtig volbring!

Kom, kom proe God se soet barmhartigheid.

Amen.

Skyfie: Dors? Sing (Staan op) Gesang 484 : 1,2

Sang (Staan op)

Gesang 484 strofes 1,2.

 

Skyfie: Wisselformulier vir die Nagmaal

Nagmaal Wisselformulier vir die bediening van die nagmaal

Die Wisselformulier fokus op die nagmaal as herinneringsmaal (verlede), versorgingsmaal (hede) en ‘n feesmaal wat gerig is op die toekoms. Hierdie betekenis van die nagmaal is in ooreenstemming met die NGB (artikel 35) en die HK (antwoord 76).

Geliefdes in ons Here Jesus Christus!

Die Here Jesus het voor sy dood saam met sy dissipels brood en wyn geneem en gesê dat hulle dit moet gebruik tot sy gedagtenis. Daarom doen ons dit ook.

Die nagmaal is een van die kerk se twee sakramente wat ons help glo. Met die tekens van brood en wyn verseker Jesus Christus ons deur sy Gees dat ons regtig in gemeenskap staan met God en met mekaar. By die tafel van die Here word ons ʼn gemeente, en verheerlik ons almal saam vir God.

Ons glo dat die Here deur sy Gees by hierdie feesmaal teenwoordig is. Wanneer ons die brood en wyn ontvang, herinner dit ons dat en hoe ons verlos is: deur die dood en opstanding van Jesus Christus. Geloof laat presies dit met ons ook gebeur: Deur geloof in Jesus Christus het ons saam met Hom gesterf en staan ons saam met Hom op in ‘n nuwe lewe.

Die nagmaal wil ons daarvan verseker dat ons aan Christus deel het. En die  Here rig ons hoop op die hemelse feesmaal saam met God en al die gelowiges. Ons behoort vir ewig aan God, nie net vandag nie. Daarom hoef ons niks te vrees nie. Christus is die Een wat was, wat is en wat kom – die Here van die toekoms, ook van ons s’n.

Rondom die tafel word die gemeenskap van gelowiges sigbaar. Ons het almal deel aan hiérdie brood en wyn. Die liefde wat God aan ons skenk, bind ons aan mekaar.

Voor ons by die tafel aansit moet ons onsself eers ondersoek en afvra of ons bereid is om deur ons doen en late hierdie band van liefde te versterk, of is ons dalk van plan om die vrede te versteur?

Ons ken ons eie sonde maar alte goed.  Ons het daaroor berou.

Omdat Jesus Christus ons vergewe, mag ons by sy tafel aansit. Neem jy vandag aan die nagmaal deel, sal God jou van voor af weer verseker sy genade is vir jou.

Wanneer ons van die tafel af opstaan, stuur God ons om wêreldwyd te getuig van sy versoening, sorg en liefde.

God versorg óns met hemelse en aardse brood.

Kom ons versorg uit dankbaarheid ander ook só.

Skyfie: Gebed. 

Voordat ons aan die tafel van die Here aansit, laat ons bid. Julle kan die Ons Vader aan die einde hardop saambid.

Gebed:

Vader, dankie dat ons vandag so na aan U mag kom soos om selfs aan u tafel te mag aansit. Ons glo dat U by ons is en ons versorg. Maak tog hierdie geloof nóg sterker.

Voed ons met die ware hemelse brood en wyn, Christus Jesus: Hy is ons hoop en ons lewe.

Verseker ons deur u Gees dat ons deel het aan Jesus se lewe, sterwe en opstanding. Was ons sonde af deur Jesus se bloed.

Raak vandag só aan ons, dat ons dankbaar as u kinders sal leef. Stuur ons na ons lewe in die wêreld toe.  Maak daar ons oë en harte oop vir almal in nood. Help ons om hulle te help.

Gee ons die geloof om Christus met woord en daad te verkondig.

Skyfies: Ons Vader. . .

Ons Vader wat in die hemel is,

laat u Naam geheilig word;

laat u koninkryk kom;

laat u wil ook op die aarde geskied,

net soos in die hemel.

Gee ons vandag

ons daaglikse brood;

en vergeef ons ons oortredings

soos ons ook dié vergewe

wat teen ons oortree;

en laat ons nie in versoeking kom nie

maar verlos ons van die Bose.

Aan U behoort die koninkryk

en die krag en die heerlikheid

tot in ewigheid.

Amen

Skyfie: Sing (Sit) Gesang 493 : 1,2,4,5

Sang by die voorbereiding van die tafel (Sit)

Gesang 493 strofes 1,2 4 en 5

Skyfie: Kom proe die soet genade van God!

Uitnodiging aan persone buite die gemeente:

Broers en susters in die Here, u word hartlik uitgenooi om te kom aansit aan die tafel van die Here! Belydende lidmate van gemeentes van ons Kerk en van ander kerke met dieselfde belydenis is welkom, mits u in u eie gemeente ook die voorreg geniet.

Oproep tot gelowige deelname (tafelformule):

Broers en susters, moenie vaskyk teen die tekens van brood en wyn nie.  Sien die betekenis daarvan raak: Jesus Christus het ons met God versoen.

Uitnodiging na die nagmaal: Tafel 1

Gemeente, alles is gereed; kom na die tafel van die Here. Kom, en word versterk in die geloof (Matt 22:4).

Skyfie: Gesang 387 : 4 (Sit)

Sang by tafel 1 (Sit)

Gesang 387 strofe 4

Skyfie: Kom proe die soet genade van God!

Tafel 2

Gemeente, kom; die maaltyd staan klaar (Luk 14:17).

Skyfie: Gesang 397 : 2 (Sit)

Sang by tafel 2 (Sit)

Gesang 397 strofe 2

Skyfie: Kom proe die soet genade van God!

Tafel 3

Kom, gemeente, ons is almal van die Here afhanklik. Hy voed ons op sy tyd (Ps 104:27)!

Skyfie: Gesang 490 : 3

Sang by tafel 3 (Sit)

Gesang 490 strofe 3

Skyfie: Kom proe die soet genade van God!

Tafel 4

Gemeente, kom dan; want die Here maak sy hand oop en ons kry meer as genoeg (Ps 104:28)!

Skyfie: Gesang 499 : 3

Sang by tafel 4 (Sit)

Gesang 499 strofe 3

Skyfie: Kom proe die soet genade van God!

Tafel 5

Kom, laat ons feesvier. Hierdie kind van my was dood, en hy lewe weer; was verlore en Ek het hom teruggekry (Luk 15:32).

Skyfie: Gesang 299 : 1

Sang by tafel 5 (Sit)

Gesang 299 strofe 1

Kom, gemeente, laat ons ons oë op die Here rig; want Hy voed ons op sy tyd (Ps 145:15)!

Kom, gemeente, eet! Anders sal die pad vir u te lank word (1 Kon 19:7).

Skyfie: Dank God! Gebed.

Dankgebed

Efesiërs 1 verse 3 tot 14

3        

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.

4        

So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.

5        

In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.

6        

Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het.

7        

Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God

8        

wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het.

9        

Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak

10      

en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus.

11      

Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit.

12      

Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys.

13      

Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël.

14      

Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.

Amen.

Wegsending:

Skyfie: Dank God! Sing (Staan) Gesang 203 : 1,2,3.

Slotsang (Staan)

Gesang 203 verse 1,2,3

Skyfie: Seën. Vra na die wil van die Here. . .

Seën (Staan)

5        

Nou sal jy nasies ontbied wat jy nie geken het nie, en nasies wat jou nie geken het nie, sal na jou toe hardloop ter wille van die Here jou God, die Heilige van Israel, omdat Hy jou in eer herstel het.

6        

Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is.

7        

Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees; hy moet hom tot ons God bekeer, Hy vergewe altyd weer.

(Jesaja 55)

Skyfie: Sing (Staan) Gesang 529 : 1 en 4

Respons (Staan)

Gesang 529 strofes 1 en 4

Afkondigings Insameling van die dankoffers/orrelspel

 

Advertisements Deel dit met iemand:
  • More
Like this:Like Loading...