Nuut: Ena Murray Keur 15

Drie van Ena Murray se heel beste liefdesverhale word in Ena Murray Keur 15 saamgebind:

​Die pad terug huis toe​: ’n Grusame motorbotsing laat Karina Oosthuizen, gesogte en pragtige topmodel, blind en verlam agter, en skielik is sy weer totaal afhanklik van haar weduwee-moeder wat sy al byna afgesterf het. Sy, wat daarna gestrewe het om heel bo uit te kom, moet aanvaar dat sy net een heenkome het – die pad terug na die armsalige skakelhuisie waarop sy so neergesien het. Dan, onverwags, is daar iemand wat haar en haar moeder ’n toevlug bied na ’n pragtige wit huis by die see – perfek ingerig vir ’n persoon in ’n rolstoel. Maar sal Karina hierdie aanbod aanvaar as sy moet weet wie dié weldoener is?

​’n Vrou soos Salome​: Salome Truter, sanger van formaat, verleen glans aan elke geleentheid waar sy optree, hetsy op die verhoog of by ’n rykmansparty. Toe die joernalis Jaco Retief tydens so ’n partytjie verveeld tussen die kunstenaars en snobistiese ondersteuners van die kunste ronddwaal, sien hy haar eenkant sit. ’n Vreemde weerloosheid in haar andersins gesofistikeerde houding val hom op. Impulsief nooi hy haar vir ete, en dis teenoor hóm dat Salome vir die eerste keer openhartig oor haar persoonlike lewe praat, en laat blyk dat dit nie altyd so glansryk was nie. Hy besef sy eerste indruk was reg: onder die betowering van haar openbare beeld skuil daar oneindige
hartseer . . .

Die vrou in die spieël​​: Sy word wakker uit ’n oneindige diep slaap en voel totaal gedisoriënteer; herken nie eens die kamer waarin sy haar bevind nie. Niks, selfs nie die hande waarop sy afkyk, is háre nie, en  die vrou wat uit die spieël na haar terugkyk, is nie sy nie. Maar hoe sy behoort te lyk, kan sy ook nie sê nie, want skielik ontdek sy sy kan niks, absoluut niks onthou nie. En toe ’n lang, aantreklike man skielik die kamer binnestap, haar opraap en weer op die bed gaan neerlê met die streng vermaning dat sy moet rus, vou iets soos angs om haar toe, want hy noem haar Ansie, ’n naam wat sy in haar diepste wese wéét nie hare is nie . . .

Koop dit nou! MySubs | Raru | Loot | Graffiti | Amazon (Kindle)

Oor die skrywer:

Ena Murray is op die klein Karoodorpie Loxton gebore, die middelste van drie dogters. Haar pa was die plaaslike geneesheer, en dis hier waar haar groot belangstelling in die geneeskunde ontstaan het. Verskeie van haar verhale het dan ook ’n hospitaal as milieu. Sy het op Mosselbaai afgetree en is in Junie 2015 oorlede.

 

Share this:
Like this:Like Loading...